Ek hou mos van Blou-wees..

Kom ek erken dit nou maar: ek geniet my eie “pity parties” en kan nes ‘n vark in modder tog te lekker in my selfbejammering rondrol!!
Die afgelope week of 2 trap ek  weer vierkantig in daardie slagyster…

Dit begin met ‘n paar laat aande wat veroorsaak dat ek die volgende oggend sukkel om vroeg op te staan, en dus nie my brood-nodige herlaai-tyd met die Here deurbring nie. Vir die rekord: ek is NIE ‘n vroeg-oggend mens nie, en net die feit dat ek nou al vir ‘n paar maande dit regkry om vroeër as gewoonlik op te staan vir stilte-tyd is vir my ‘n massiewe prestasie!  So ek redeneer dat ‘n paar dae se “opslip” nou nie die einde van die wêreld is nie.

So geleidelik is daar meer en meer goed wat begin krap deur die week:  Manlief is nie besonders “lief” met my nie; die wasgoed en skottelgoed hoop op en dis mos net EK wat daarvoor verantwoordelik is;  my ma-hulle trek en ek kan nie daar wees om te help nie (dit SUCK om nie geld te hê nie!);  ek wil ook soos sommige vriendinne vir ‘n lekker hare- of spa bederf gaan;  alles is alewig my verantwoordelikheid of skuld, niemand neem bietjie my behoeftes of planne in ag nie… en so hoop die klagtes op totdat ek teen Vrydag ‘n volwaardige “pity-party” gooi. Ek kla op die koop toe sommer by als en almal wat wil luister (en seker ‘n paar wat nie regtig wou hoor nie ook!)

Teen  Sondagoggend is my maag op n knop, ek verwag die ergste met sommer alles wat kan fout gaan, en is kwaad en onvergenoeg met die wêreld.  Ek weet darem dit sal help om by die Here te gaan kla oor al die onregverdigheid en knyp ‘n tydjie af om my hele  Arme Ek-Psalm vir Hom te sing, saam met my lysie van mense wat Hy weer bietjie moet aanspreek omdat hulle nie met my mooi maak nie.  Ek vergeet egter dat Hy nie altyd die probleme aanpak soos EK goeddink nie…

Net daar slaan die waarheid my soos ‘n hamer teen die voorkop: die probleem lê by my!  Ek is die afgelope 2 weke onvergenoegd en alles omdat my fokus verskuif het na daardie onheilige drie-eenheid: “ me, myself and I”.  Vir die laaste ruk het alles gedraai om my voorkeure, my regte, waar ek reg en ander verkeerd was.  Ek onthou iets wat ek die afgelope tyd gelees het in ‘n boek van die sielkundige  Andrew Bienkowski  wat as kind ‘n gevangene in Siberie was.  Hy beskryf hoe hulle selfs in die haglikste van situasies gelukkig was, omdat elkeen gefokus was daarop om die ander rondom hom/haar te help oorleef.  Volgens hom is een van die grootste probleme van die moderne era juis ons selfsug en ons aanname dat alles altyd moet gebeur om ons te pas of tot ons voordeel te wees.  Dis mos die mantra van ons tyd: wees goed vir jouself, sorg dat jy die beste voordeel uit enige aanbieding of situasie trek, staan op jou regte…

Snaaks dat ek nou glad nie vinnig aan een plek in die Bybel kan dink waar Jesus of enige van sy volgelinge hierdie ideologie gepreek  het nie. Ek kan wel vinnig dink aan baie versies waar ons beveel word om vir ander om te gee, te deel wat ons het, die ander wang te draai, die minste te wees, aan ander te doen wat ek eintlik vir myself wil hê.  Maar veral ook die belangrikheid om my verhouding met die Here te koester en te bou, juis sodat Hy my kan help om my fokus reg te skuif.  So, van more af is vroeg opstaan weer my voorland!

Lees ook  Destroy her with discontent

 

IMG_9514 as Smart Object-1

 

1 thoughts on “Ek hou mos van Blou-wees..

Add yours

Lewer kommentaar

Blog at WordPress.com.

Up ↑