Om aan te gaan sonder Ma.

_P5J4630Dis nou 3 maande sedert my ma oorlede is…. 3 maande van oppe en affe soos ek nog nie vantevore ervaar het nie. Baie meer vrae as antwoorde.  Onsekerhede. Herinnerings. Nuwe “realities”…

Aan die begin was dit my grootste begeerte om met ander vriendinne wat reeds hul ma’s verloor het te praat om te probeer vasstel wat lê voor. Watse emosies, wanneer gaan wat jou tref, wat is normaal en wat nie… net om agter te kom dat hulle ook nie antwoorde het nie. Die enigste antwoord wat ek konstant gekry het was ‘n verslae: “die gemis gaan nooit weg nie/ dit word nooit beter nie”  Die meeste van hulle se trane het sommer dadelik weer vlak gelê: of hulle ma’s nou onlangs of alreeds 30-40 jaar gelede weg is! (interessant genoeg was die mense wat nog nie ‘n ouer verloor het nie, baie meer vrygewig met raad en antwoorde…)

Dae sou verbygaan waarin die lewe net normaal voortgaan. My ma het nie die afgelope paar jaar naby my gewoon nie, so my alledaagse lewe was nie gevul met situasies waarin sy noodwendig ‘n gat gelaat het nie. Maar dan sou ek iets raaksien of -lees en behoorlik my wange moes stukkend byt om te keer dat ek op onvanpaste plekke of tye soos ‘n baba begin huil. Die eerste keer (en elke keer daarna) wat ek die doodsertifikaat sien, en haar ID met die woorde DECEASED daaroor geskryf! Om ‘n e-pos te kry met die onderwerp: Boedel Wyle GD Gillespie!! Dit pas mos nie by my ma nie!

Daar is tye waar ek vir dae aaneen voel asof al my energie opgeneem word net deur  OK  te probeer wees… waar ek elke oomblik van die dag net daarop moet konsentreer om myself by mekaar te hou, nie te verbrokkel en net op ‘n hopie in stukkies te gaan lê nie. Selfs lag vir ander mense se grappies en opgewekte geselskap is ‘n besluit en inspanning… dit kom nie meer vanself nie. Die trane lê amper altyd baie, baie vlak.  En my kapasiteit om ander uitdagings, probleme, veranderings of konfliksituasies te hanteer is ‘n groot ronde NUL!

Ek sukkel om my ma en die woord “dood” in een sin te gebruik. Ek praat van “voor my ma se siekte”, “na ek van Johannesburg af terug gekom het”, en ander sagter maniere om die tyd of gebeure voor of na my ma se dood (daar sê ek dit nou!) aan te wys.

Daar is aande wat ek net op my bed gaan lê en huil sonder om regtig te weet hoekom. Ek weet dit het met haar te doen, maar kan nie in woorde uitdruk wat presies die oorsaak van die trane is nie.

10357262_803067893039430_6084300544050587235_nEk kry dit nie reg om my Whatsap profielfoto te verander nie. Het al ‘n paar keer begin, ‘n nuwe foto of mooi prentjie gekies en wanneer ek die verandering moet bevestig, Cancel gedruk. Want dit voel asof ek my ma uitvee… of ek daarmee te kenne gee dat dit OK is as sy opsy geskuif word “want die lewe gaan aan”.   Soos in Beauty and the Beast voel dit asof nog ‘n roosblaar val, elke keer as ek sien dat iemand se profielfoto wat my ma op gehad het, verander. En hoe langer ek my foto nog hou, hoe langer is daar nog ‘n laaste blaartjie wat keer dat almal gaan vergeet sy was op ‘n tyd deel van ons lewens.  Natuurlik weet my kop dit is nie so nie, maar êrens tussen my kop en hart, en vingers wat DONE moet druk raak die boodskap bietjie verstrengel met emosies.

27169_116695358343357_8223586_nDie dogters kom kuier vir die vakansie en een dag terwyl hulle saam lag en bak en brou in die kombuis neem ek ‘n foto en eers toe ek my ma se nommer opsoek om die boodskap te stuur, besef ek dat ek die foto vir haar geneem het! Niemand kan soos ‘n Ouma opgewonde raak oor die onbenullighede en alledaagse doen-en-late in haar kleinkinders se lewens nie.  Wie gaan dit nou saam met my geniet en waardeer? (Nee, vriendinne of sussies is tweede prys, hul reaksie nooit so presies reg soos Ouma s’n nie!)

Tussen my en die dogters kom die woorde “Ouma sou ons nou kon sê of help” gereeld op. Hoekom breek die miljoenêrskoekies se sjokolade-laag?… Ouma sou kon raad gee. Hoe kry ek hierdie kol uit sonder om die hele bloes te vergeel… Ouma kon dit doen!  Wat was die tannie in die bib se naam nou weer… Ouma sou geweet het.  Wanneer het dit nou weer gebeur… Ouma sou onthou…

Ek besef daar is sekere smake wat ek seker nooit in my lewe weer gaan proe nie! My ma se Sondaghoender, hoenderpastei, wildspastei, prawns, worsrolle en spekwieletjies, chocfudge en roompoffertjies (gelukkig kom vriendin Helga s’n BAIE naby aan Ma s’n!) Selfs al het ons die resepte kom dit NOOIT presies reg uit nie (na 20 jaar glo my dogters nog steeds nie dat ek dieselfde resep as Ouma gebruik vir Sondaghoender nie!)

IMG_20180506_100443Ek weet dat dit nog baie lank gaan vat voordat ek oor haar sal kan gesels en aan haar sêgoed dink sonder om trane saam met die lag te ervaar. Maar ek besef ook die enorme voorreg daaraan om iemand so te mis, want dit beteken dat daar liefde en omgee was, en dit in oormaat!! En daarvoor is ek ek dankbaar! Dankbaar dat ons vir so lank naby aan mekaar gewoon het en alledaagse dinge saam kon beleef, vinnig stop vir ‘n koffie selfs al was ons albei besig. Ek is dankbaar dat my dogters hulle Ouma geken en liefgehad het, dat hulle gedeelde passies gehad het en dat sy hulle so baie kon leer wat hulle ma nie kon nie. Ek is dankbaar vir ‘n skatkis vol herinneringe wat gevul is met baie lag en gesels.

Ek is ook oneindig dankbaar vir die wonderlike mense wat die Here om my geplaas het wat my hande oplig wanneer ek nie die krag het om dit self te doen nie. Wat op die regte tyd bel of inval vir koffie of sommer net ‘n whatsapp stuur om te sê “ek weet jy kry swaar en bid vir jou”

En heel meeste is ek dankbaar vir ‘n Vader wat my troos en moed inpraat en soms net op Sy skoot laat klouter terwyl ek my hart uithuil. ‘n Vader wat verstaan hoe ek voel en saam met my hierdeur sal worstel, ongeag hoe lank dit gaan vat, en keer op keer die regte skrif of mense stuur wat ek nodig het vir die volgende tree…. want ek vermoed hierdie paadjie gaan nog ‘n hele rukkie lank deur onbekende terrein kronkel…

abf47bec67d3f6c6908b327e900c8093

Advertisements

4 thoughts on “Om aan te gaan sonder Ma.

Add yours

  1. Dankie vir die deel hiervan

    My ergste gemis was ook date k nie meer kon vra:’Hoe nou weer Ma?”

    Gehoop jy gaan na Annalise Wiid se dood haar plek by LIG oorneem !

    Groete en liefde

    Roelf

    Like

    1. Ek het daardie tyd jou blog gelees en was diep geraak daardeur. Het juis na my ma se dood dit gaan herlees… My oudste dogter vang einde van die jaar graad en die eerste gedagte toe ek hierdie week die bevestiging van die gradeplegtigheid datum sien, was dat my ma nie hier is om dit te ervaar nie!

      Like

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

Create a free website or blog at WordPress.com.

Up ↑

Katie Majors

author | blogger | speaker

Koskaskenades

The recipes and stories from Caro's Koskaskenades adventure...

Geloof droom skryf

Om te glo te droom en oor alles na aan my hart te skryf

Lekkervurigeaffêre

Sommer oor alles wat my hart warm laat klop.

Woestynkind

Die wandelende opinie

Tales for Life

Some stories just need to be told: healing and wholeness in everyday life

En Route

Thoughts and experiences on my life-journey with God

Stie's Thoughts

Thoughts and experiences on my life-journey with God

Rhythms of Grace

Thoughts and experiences on my life-journey with God

elanahugo

to learn to yield

Fynbos Letters

Calling a spade a spade

Salt and Light

Matthew 5:13-16

One Thing Alone

Go deeper in your relationship with God through daily devotionals and Bible study tutorials. Join today and get the Quiet Time for Busy Women eCourse for free.

little known path

Be still and know that I am God

Discover

A daily selection of the best content published on WordPress, collected for you by humans who love to read.

%d bloggers like this: